Tuesday 5 August 2014

Stoepkoffie

Die son koers skemer met die maan se aankoms in die hemelruim. Besies van die nag roep al harder oor die dou nat gras. En môre voëltjies rus vir opstaan later. Nou wonder ek hoekom my bedjie ook so koud is...?

Nie wonder eerder as besef nie.

Jou afwesigheid bemoei my. Arms leeg en ligte af in hierdie nag.
Stilte.
Die van eensaam sonder aanraak. Ogies loer my nie. Die koue probeer maar kry niemand te tart. Wanneer afstand my van jou hou... word dit eers nag buite. Dan hier binne.

Al son is jou belofte van môre.
En hoe wonderlik is so 'n verwagting nie?! 

Sien jy waar die son in die water val, daarheen gaan ek jou neem en verby. Die wêreld verken, ons twee treë op 'n slag. Gewillige opwinding durf ons vreemde tale praat met mense wat ons nie ken nie, maar al so baie gesien het. 

Deel my gedagtes van môre en skep hoop in onbekende dae van ons. Dae van reën en dae van sonskyn. Jou hart gee krag aan myne. Elke oomblik wil ek jou vertel hoe lief ek jou het. 

Nou sit ek en vorentoe dink aan waar ek jou hand vat en ons mekaar regop hou soos ons versigtig voorstoep toe, eendag, en soos altyd, ons oggend koffie geniet oor die lande wat nog toe onder die mis lê, wat nog nie vandag vir die son geskrik het nie.