Thursday 1 August 2013

20 sekondes vaart

20 sekondes gewaag, gewerk, geval
sag-hard, geen keer
Nou, ver weg, Bijl of Wit-Noord,
wanneer hoor ek jou lag weer?

Natuurlike beeldskoon
net met bietjie kleur gekroon
wat ek glo wil my nie bedien
met myself moet ek baklei.

Liewe lieweheersbesie
jou rare prag-wonder spesie
nog nie eens gesien
wetend dit is net sy.

Ek wil vat aan jou hand, dis buite reik...
jy sit langs my
Ek wil jou hare uit jou gesig vee...
sien hoe dit oor jou wang gly.

'n Duisend verskonings, redes, pleite...
'n duisend verkeerde keuses. Feite.
Geen foto vang vas
wat in jou oë geskryf was.

Skuldige aanrakings vul leë beloftes
vryheid ontneem, geanker aan land
plat water en ek wonder of die see te rof is?
soos 'n bingo kaart vol raak, val die tydsand deur my hand.

'n Legkaart waarvan twee stukke verlore was
onwetend, is die prentjie vol gepas.
Vir 'n oombliklike ewigheid het 'ons' perfek gevoel,
met niks wou ek jou los, met my alles dit bedoel.

"Wat as"-gedagtes dryf deur my kop
my hart breek my brein.
Die boot wil diep blou toe draai
en veilig vaar, ver, vir altyd uit sein.

'n Ver weg droom vaar in en uit fokus
my hart vra of ek in jou gedagtes ook is?
Jou hart kruip weg om 'n ander hoek
die stilte in jou woorde skryf 'n volle ou boek.

Op 'n donker verwagte dag
my hardop vir 'n skerm laat lag...
Jare laas so gedink, gevoel, geskryf
oor jou en denke en lag en lyf.

Ek hoor jou stem, droom oor jou lag
en ek sien jou gesig in elke lied
lewe is weer lekker...elke dag!
in verwondering oor wat môre mag bied...

Ek sien die volmaan helder skyn op my stoep
selfs meer op my hart en in my oë...
Hoor jy hom ook; jou na my toe roep?
op die kortste lys, vind ek jou verste bo.

Skielik, ontydig my woorde weggevat
ek wou die beter glo,
het geen hoop verloor
maar jou hart stap terug na 'n vroeër pad

en steeds...

geen woorde vang was wat daardie aand in jou oë geskryf was.

1 comment:

  1. In die stilte van die nag word daar (nogsteeds?) na jou woorde gesmag. ?!

    Moet nooit ophou skryf nie.

    ReplyDelete