Tuesday 21 January 2014

Glimlag saam met my

Glimlag saam met my op die foto
Al is hierdie 'n bewolkte sonskyn-skaam dag
Ons hoor dit reën op die plaas
Tog was hier net 'n sagte doutjie laas nag.

Jy, soos ek, was nog altyd opgewonde
As die lug af aarde toe kom met die koel
Nattigheid wat stof voor die werfhek en
Toe die oomblik wat ek jou lippe op myne voel.

My oë water self van die sig voor my
Bene kan ek nie onder my vind waar ek staan
'n Ou bekende wysie speel op die orrel
Ek verloor myself toe ek hoor jy vat my naam.

Niks maak saak rondom my, die geraas
Verdwyn in jou oë soos sonsak-strale
Net jy in hierdie oomblik voor my glimlag
Belowe om te dra oor berge en dale.

Ek sien dan die hoeke van jou mond
Wat lag soos die swartpak-man sy woorde
Verloor vir 'n oomblik in die opwinding
Dan word die seën uitgespreek uit die Noorde.

Wonder bo alle ander, ek sou nooit raai
Dat 'n mens so 'n prag op aarde kan vermag
Maar hier bloos jou wange voor my
Jou hande soos ek dit altyd sal hou; in myne sag.

Die wêreld sal jou nie tref
Die mense van hom sal jou nie seer
Wanneer jy draai na my, sal ek vir jou wees
Ek sal jou vang, weer en weer en weer.

Die res van ons lewe begin by die deur
Ons het klaar gewag om hom te kry
Die lewe saam met jou waarvoor ek gebid het
Vandag glimlag my vrou saam met my.

No comments:

Post a Comment